In 1824 skryf Beethoven: “Handel is die meester van ons almal... Ek sou my hoof ontbloot het en voor sy graf kniel.”
Sondagmiddag se uitvoering van sy Messiah deur die Pretoria Bach-koor en ’n spesiaal uitgesoekte orkes onder leiding van Gerben Grooten, het die grootsheid van die werk kragdadig tuisgebring. Die soliste, Ilse Coetzee (sopraan), Jonathan Watkins (kontratenoor), Chris Mostert (tenoor) en Hendre van Zyl (bas) se kollektiewe aandeel was, hoewel soms wisselvallig, eweneens beduidend.
Grooten se leiding as geheel is gekenmerk deur talle positiewe elemente wat oorkoepelend in die volgende paar opmerkings saamgevat kan word: By hom was die byna pastorale ligtheid wat hy bewerkstellig met sy wakker en helder musiserende orkes opvallend.
Die donkerder bladsye van die partituur soos die verhewe “He was despised”, sny by hom nog nie heeltemal regdeur die siel nie, maar ’n ander karaktertrek bly resoneer: Dit was ontroerend introspektief.
|
Sedert Grooten die leisels van die Pretoria Bach-koor al ’n hele klompie jare gelede oorgeneem het, is daar aan ouer stemme gesnoei. Die koor het ook wat getalle betref verslank. Dit het die wakkerheid van die koorlede verskerp.
Dié eienskappe was reeds vroeg in die uitvoering opvallend, maar die werklike toets het vanselfsprekend sy verskyning gemaak met die aanhef van die beroemde “Halleluja”-koor. Hier is deurgaans ’n subtiele spel rondom dinamiek aangewend pleks daarvan om eenvlakkig, tomeloos en op ’n bulderende wyse vreugdevol te wees.
Wat die soliste betref, het elkeen by tye bo sy of haar vermoëns uitgestyg. Mostert het met die resitatief “Comfort ye” en die daaropvolgende aria “Ev’ry valley” nog ietwat met suiwer intonasie geworstel, maar in die res van die werk konstant so ’n hoë vlak van vokale uitdrukkingskrag behaal, dat dit hom vergewe word.
Me. Coetzee se helder, jeugdig en omvangryke sopraanstem met slegs ’n ligte vibrato is ideal vir Handel.
|
Sy het al die tegniese uitdagings met musikale integriteit oorkom en heelwat gevoelswaarde in haar teksbehandeling deurgevoer. ’n Geringe indruk van moegheid het haar aandeel in die derde deel effens bemoeilik.
Watkins se kontratenoor besit ’n natuurlike klank en hy is deeglik in die Barokprinsipes geskool. Sy ietwat sporadiese maar steeds perfek geplaaste ornamentasies was hoogtepunte in sy voordrag. In die aria “Thou art gone up on high” was dit duidelik dat Handel nie juis toegeeflik was met pouses waarin die sanger kan asemhaal nie!
Van Zyl se basresitatiewe en -arias is versigtig benader en het wat projeksie betref nie altyd heeltemal die effek oorgedra wat Charles Jennens met sy dramatieser tekste vir die basstem beoog het nie.
Handel se Messiah bly onskendbaar groots. Die driedelige slotkoor illustreer dit. Dit is ’n wonderwerk van musikale argitektuur.
- Paul Boekkooi
|